Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Te vreemd om waar te wees

Te Vreemd Om Waar Te Wees

Deur – Chante Daries

Die polisie het vermoed dit was hy.
Sanlam sê dit was hy.
Die polisielid wat hy omgekoop het, het ook getuig Pieter Muller was die hoofverdagte. En tog – ’n dekade ná die moord van Maryna Muller (39) – is die polisiedossier gesluit. “Dit was die perfekte moord,” sê ’n vriendin van Maryna aan Rapport. Niemand kon vasgetrek word deur die moord nie en die saak is afgehandel. Die vriendin wil nie geïdentifiseer word nie. Pieter het nog deurgaans ontken dat hy enigiets met sy vrou se dood te doen gehad het.
Maryna is op 13 September 2006 vermoor toe Pieter van die N1-hoofweg afgetrek het om weens sy “swak blaas” water af te slaan. Hy sê in ’n beëdigde verklaring hy het ’n toeter hoor blaas, nie omgedraai nie (“ek het net gewaai”) en die
volgende oomblik besef sy vrou is deur kapers ontvoer. Die paartjie se Toyota Prado is ure later in Faerie Glen in die ooste van Pretoria gevind. Maryna was nog vasgegordel in die passasiersitplek. Sy is verskeie kere geskiet.
Vier dae voor haar moord het sy nóg ’n aanslag op haar lewe oorleef. Dié keer het Pieter haar gevra om ’n
spesifieke roete te ry om ’n telefoonnommer van ’n onderneming te gaan kry, word in hofstukke onthul.
Op pad na dié onderneming het ’n onbekende man ’n skoot deur die Prado se regtervenster geskiet.
“Soos hulle sê: Karma kom terug vir jou. Dis goed so,” sê Maryna se vriendin oor die wending wat nou weer
alles kom oopkrap het. Die appèlhof het verlede week beslis Pieter gaan nie lewenspolisse ter waarde van R8,9 miljoen kry nie – al is dit om ’n regstegniese rede. ’n Volbank regters het beslis sy eis teen Sanlam het verjaar omdat hy Sanlam
moes dagvaar binne drie jaar van die dood af. Sanlam het hom jare lank aan ’n lyntjie gehou oor dié polisse en Pieter het eers in 2011 met ’n hofsaak begin. Hy bly deesdae in Swaziland saam met sy nuwe verloofde, Hermie Broodryk, en sy seun, Pieter jr. “Klein Pieter was baie na aan Maryna en hy het haar dood baie swaar verwerk. Hy het ná die tyd net vir my gesê hy gaan nie krap waar hy dalk iets gaan uitvind wat hy eerder nie wil weet nie.”
’n Geregtelike doodsondersoek wat in September 2010 afgehandel is, het bevind Maryna is vermoor deur
“persoon/persone onbekend aan die staat”. Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het die afgelope week aan Rapport bevestig die saak is afgesluit.
Maar dokumente wat Sanlam bekom het in hul kat-en-muisspeletjie met Pieter vertel ’n verstommende verhaal agter die moord. Dit is as hofstukke in die hooggeregshof
in Kaapstad voorgelê en wys:
Twee dae voor die eerste aanslag op haar lewe, het Maryna glo aan ’n vriendin gesê: “Ek dink hy – Pieter – wil my
uithaal.”
Luidens die vriendin se verklaring het Maryna nie hierop uitgewei nie behalwe om te sê sy dink darem nie hy
sal dit aan hul kind doen nie. ’n Werknemer van Pieter het in nog ’n verklaring voor die hof beweer Pieter het reeds die telefoonnommer gehad wat Maryna kwansuis vir hom moes gaan soek het. Die polisieondersoekers sê in hul verklarings Pieter was die enigste mens wat geweet het presies waar sy was omdat hy haar gebel het.
Luidens die speurders se verklarings was daar geen urine te vinde by die plek waar Pieter sê hy het water afgeslaan
nie. Daar is volgens hulle ook nie bewyse dat Pieter opgeloop het na die brug om hulp te soek soos hy sê nie.
’n Forensiese ondersoek dui daarop dat Maryna waarskynlik geskiet is in ’n leênde posisie en nie regop in die
motorsitplek soos sy gevind is nie. ’n Speurder verklaar ’n werknemer van die Mullers wat ook as verdagte geïdentifiseer is, het glo R40 000 gekry om diesel te gaan koop, maar daar was geen spoor van die diesel nie.
Nog ’n ondersoeker sê Pieter het beweer hy en Maryna was Pretoria toe vir ’n sakeafspraak, maar die persoon wat
hulle glo sou ontmoet, ontken dat daar ’n afspraak was. Pieter het ’n polisieman, Deon Snyders, genader om vir hom polisievorms te gee wat hy nodig gehad het vir die uitbetaling van die polisse. Hy het hom egter later in ’n lokval gelei en teen Snyders getuig. Snyders is vir ses jaar tronk toe gestuur weens korrupsie en is al op parool vrygelaat.
Twee van die polisse is uitgeneem in November 2005 en ’n derde in Julie 2006, kort voor die moord.
Al hierdie faktore beteken Pieter het “op ’n oorwig van waarskynlike” ’n rol in Maryna se dood gehad, het
Sanlam in hul hofstukke aangevoer.
Pieter ontken ten sterkste in sy hofstukke dat hy sy vrou, van wie hy al in 1992 om “sakeredes” amptelik
geskei is, laat vermoor het of enigiets daarmee te doen gehad het. Hy sê dit was ’n tragiese “kapingsvoorval”.
Rapport het herhaaldelik probeer om Pieter deur sy prokureur, Conrad Botha, te kontak, maar was
onsuksesvol.

Rapport – 9 Oktober 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Te vreemd om waar te wees

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×