Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Vrees en weersin in Blikkies

Vrees En Weersin In Blikkies

Deur – Chante Daries

Die mense van Burgershoop is altyd agterdogtig wanneer ’n vreemde motor hul verflenterde buurt binnery.
Maar sedert die opspraakwekkende afspraakmoorde in Krugersdorp het die temperatuur in Blikkies, soos die mense hul buurt noem, nog hoër gestyg. Die polisie het al ’n halfdosyn van Blikkies se mans kom haal vir ondervraging.
Twee van hulle, Fabian Luff en Christiaan Kruger, sit steeds in die selle. Hulle word aangekla van die ontvoering, roof en moorde op Anthony Scholefield (64), Kevin Mc Alpine (29) en Hanlé Lategan (52).
’n Hele polisietaakspan is saamgestel om die moorde te
ondersoek. Die Blikkiesdorpers glo die polisie is nog nie klaar met hulle nie. “Kyk daar. Daai is polisiemanne. Hulle volg my,” sê ’n inwoner toe ’n redelik nuwe wit motor verby ry. Nuwe motors staan uit, want die meeste mense hier ry ou
motors. Die werwe is kaal en daar is nie juis huisraad in die verwaarloosde ou raadshuise nie. Maer babakatjies sit in die kaal bome en miaau. Die strate is vol mense, al is dit ’n gewone werkdag. Baie loop met kinders op die heup.
Op ’n straathoek sit ’n groep Nigeriërs ons en uitkyk. Vra jy oor Fabian, kry jy twee antwoorde.
In die skemer sitkamer van hul huis sê Annelien du Toit (38), sy meisie van twee jaar, hy is te goedgeaard om
mense dood te maak. “My hart sê Fabian is onskuldig. “Fabian is die tipe mens wat mense altyd help waar hy
kan. Iemand wil hom by hierdie gemors betrek. “Ek is stukkend, elke aand huil ek myself aan die slaap,
want my man is van my afgevat vir iets wat hy nie eens gedoen het nie.” Maar ’n ander inwoner sê dinge lyk maar sleg vir Fabian. Nog een sê 60% van Blikkies se mense is op tik. Wanneer hulle tik gebruik, raak hulle aggressief. “Ek
ken Fabian en is lief vir hom en nog nooit het hy gewelddadig opgetree nie. Ja, hy gebruik Crystal, maar
dit maak nie van hom ’n slegte mens nie,” se Annelien. Die gerugte loop dik. Annelien sê die polisie het Hanlé Lategan se hangertjie in Fabian se besit gekry. Maar iemand het dit aan Fabian gegee.
“Babsie het vir my gesê sy het die hangertjie opgetel. Ek weet nie waar nie, want sy loop oral rond en sy
bly nie hier in Blikkies nie. Toe gee sy dit vir Fabian,” sê ’n vrou wat anoniem wil bly. Niemand weet
nou waar Babsie is nie. Volgens Annelien is sy ook verlede Vrydag deur die polisie opgelaai.
“Hulle het vir my ’n paar klappe gegee, toe wys hulle my die lyk van die Lategan-vrou. Hulle sê toe vir
my Fabian het dit gedoen. Die polisie wou seker gehad het ek moet meer inligting gee, maar ek het van
niks geweet nie.” Volgens Annelien het die polisie vir haar ’n foto gewys van ’n onbekende vrou wat voor ’n kitsbank
staan. “Hulle het vir my gevra of ek die vrou ken, maar ek ken haar glad nie. Ek weet nie eens of Fabian haar
ken nie,” sê Annelien. Inwoners praat van ’n vrou wat rondloop met ’n vuurwapen en oor mure spring as iemand naby haar kom. Hulle reken dit is na wie die polisie soek, maar sy woon volgens hulle nie hier in Blikkies nie.
Die moordenaars het al drie die slagoffers se bankkaarte gebruik om geld te trek.
Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, wou nie kommentaar lewer oor die vordering van die
saak of die onbekende vrou oor wie almal in Blikkies praat nie. “Al wat ek kan sê, is die saak kom 14
Junie weer voor vir ’n formele borgtogaansoek.”
Juan Broderick (19), oor wie Rapport verlede Sondag berig het, is Sondagaand vrygelaat nadat hy drie
dae lank in die selle by die Krugersdorp-polisiekantoor was.
“Die polisie het gedink ek is ’n accomplice met ’n meisie wat ek nie eens ken nie. Daar is glo ’n
onduidelike foto van iemand wat by ’n kitsbank staan en toe dink hulle dit is nou sommer ek. Ek weet
nie eens waarvan hulle praat nie.
“Ek ken nie die mense wat doodgemaak is nie en ek het nie eens geweet van die moorde nie,” sê
Broderick.
Die polisie kom nog steeds elke dag om iemand hier op te tel, sê ’n vrou wat op haar stoep sit en rook.
Totdat dit nie ophou nie, totdat die regte skuldiges nie vas is nie en die vreemde motors nie wegbly nie,
gaan Blikkies nie rus nie.

Rapport – 12 Junie 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Vrees en weersin in Blikkies

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×