Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Balju, ma’s, speurders op Byl se spoor

Deur Chanté Daries

Van die balju tot private speurders en gebroke ma’s is op die spoor van die baasspeurder Piet Byleveld (66) omdat hulle beweer hy is vort met hul geld sonder om die werk te doen waarvoor hulle betaal het.
Maroela Media het vroeër berig oor verskillende voormalige kliënte wat woedend is omdat hulle sukkel om die speurder in die hande te kry.
Twee private speurders is ook op sy spoor.
Gary Jacobs, ’n private speurder, sê aan Rapport Byleveld skuld hom R20 000 vir werk wat hy vir hom gedoen het.
“Hy het my gekontrakteer vir ondersoekwerk in ’n saak. Ek het die werk gedoen, maar toe betaal hy my nie. Ek weet R20 000 is nie so baie geld in die groter prentjie nie, maar dit gaan oor die beginsel en die etiket,” sê Jacobs.
Volgens ’n ander private speurder, wat gevra het om anoniem te bly, skuld Piet hom ook R20 000 vir ondersoekwerk.
“Ek het my prokureur ’n brief vir hom laat stuur. Ons het niks van hom gehoor nie. Geld het ­regtig na sy kop toe gegaan.”
Rapport het ook hofdokumente gesien wat wys die Modimolle-munisipaliteit het ’n vonnis teen Byleveld verkry vir uitstaande eiendomsbelasting van R1 711.
Kliënte vir wie Byleveld die laaste hoop verteenwoordig het om die moordenaars van familielede op te spoor, is gebroke.
“Hy het R60 000 van ons geld gevat om die saak te ondersoek. Nadat ons die geld betaal het, het ons niks weer van Piet gehoor nie,” sê Linda Lumsdale, die ma van Daniëlle Lumsdale (25), wat in Oktober 2009 dood op ’n kleinhoewe in Muldersdrift gevind is.
Daniëlle se lyk is regop tussen bome gevind met ’n stuk lap om haar nek. Die polisie kon die saak nie oplos nie.
“Piet was Daniëlle se laaste hoop vir geregtigheid. Maar hy het ons in die steek gelaat. Sewe jaar van ondraaglike pyn het net erger geword,” sê ’n emosionele Lumsdale vanaf haar huis in Muldersdrift.
Die kantoor in ’n winkelsentrum in Ruimsig, Roodepoort, wat Byleveld voorheen gehuur het, staan al ses maande lank leeg. Volgens ’n bron by die sentrum het hulle net op ’n dag gesien Byleveld is weg.
“Daar was geen kennisgewing of enigiets nie. Dit was baie vreemd want ons het nooit tevore probleme gehad met mnr. Byleveld nie.”
Volgens die bron het Byleveld ’n huurkontrak tot die einde van die jaar, maar hy het sedert sy verdwyning geen huur betaal nie.
Byleveld was nie tuis toe Rapport hom by sy meenthuis agter die sentrum gaan soek het nie.
Ná herhaaldelike versoeke om kommentaar het sy prokureur van Scholtz Attorneys laat weet hulle beskou die stortvloed van klagtes in die media in ’n ernstige lig en sal “op die gepaste tyd in ’n gepaste forum daarmee handel”.
Volgens sy prokureurs is sy vrou, Elize (57), tans in die hospitaal en hulle sal alle navrae namens hom hanteer.

Rapport – 23 Oktober 2016




This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Balju, ma’s, speurders op Byl se spoor

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×