Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

‘n Onderhoud met Hanru Niemand

Hanru Niemand gesels oor ‘Kreeftegang’


Hanru Niemand is ‘n veelsydige plaaslike Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van die Boland, waar hy bedags ook as sielkundige praktiseer. Hy is sedert 2003 deel van die musiektoneel in Suid Afrika. Hy het onlangs ‘n nuwe album vrygestel, maar ek het eers onlangs sy vorige album ‘Kreeftegang’ ontdek. Ek het met hom gesels oor die album en sy planne vir die toekoms.

Hoe gaan dit en hoe was die afgelope paar maande van ‘n baie mal 2020 vir jou? Waarmee was jy alles besig, ens.? 

Ek dink dit was maar vir ons almal `n rowwe jaar sover. Onthou, voor die lockdown het ons lank gesukkel met loadshedding! Ek was redelik besig met my day job, het bietjie musiek gemaak en het die finishing touches vir my nuwe album, “Opgrawings vir ‘n Lugkasteel” opgesit.

Ja, inderdaad! So, voor ons bietjie oor musiek gesels, hoe ervaar jy die lockdown tydperk? 

Ons eet Baie lekker en ons het darem`n lekker erf, so ek voel nie ek het cabin fever nie, maar ek mis dit baie om te gaan musiek maak op ander plekke. 

Ja, daai groot erf help baie! Jy maak al musiek van (as ek dit reg het) 2003. Vertel so bietjie meer van jou journey oor die jare. Hoe het jy begin en hoe het jou sound verander oor die tyd?

Ek is self nooit seker watter jaar om te sê ek begin het nie. Ek het op 16 die eerste keer my eie songs begin skryf. Een van die songs wat ek nogal op my eerste album opgeneem het (‘Tot Stilte’ in 2006) was een wat ek op 17 reeds geskryf het. Van toe af skryf ek musiek, natuurlik in my jeug meestal love songs, en tree hier en daar op op iemand se uitnodiging. Hier teen omtrent 2003 besluit ek toe om vir die eerste keer `n volledige show van my eie te hou. Dit was by die legendaries Dorpstraat Teaterkafee in Stellenbosch.

Ek dink my sound het al `n paar keer verander, of mens kan sê die verskillende style maak beurte. My heel vroegste goed kan mens seker, as jy vrygewig voel, `n (baie ligte) tipe alternative rock noem. Daarvan is daar min oor, hoewel ek self nog graag na musiek van die 90s luister. Op skool en vroeg op Universiteit het ek nogal gesukkel om ordentlike drummers en bassists te vind, so uit frustrasie het ek maar eerder alleen gespeel. Die probleem was dan dat daar baie leë ruimtes in die musiek is as jy net strum en sing. Terselfdertyd het ek `n klomp ou folk musiek ontdek en verlief geraak op die ouens se finger picking. En so gaan my musiek toe in `n redelike folky rigting. Later het ek meer melodieuse wysies in my kop gekry, so toe was daar songs wat meer kabaret-erig uitgekom het. Sedertdien maak die twee neigings so half beurte. En nou die dag het ek weer, soos omtrent 20 jaar terug, `n grungerige song gemaak waarvan ek nogal baie hou. 

Jy werk ook as ‘n kliniese sielkundige. Wanneer kry jy tyd om nuwe musiek te skryf en aan hierdie ander loopbaan te werk? 

Daar is maar min tyd, maar `n wysie kom draal soms op ‘n heel onverwagse oomblik. Ek het byvoorbeeld een aand teruggery van ‘n gig in die Paarl (ek het saam met Die Kaalkop Waarheid gespeel) en toe kom die versie in my kop vir ‘n koor waarmee ek letterlik jare gesit het. Toe kry ek kort daarna ‘n idee vir lirieke en vandaar het dit redelik vinnig gegaan.

Van jou liedjies is al deur ‘n Russiese vertaler vertaal. Vertel my so bietjie van dit?

Ja, ‘n vriend van die vertaler het een keer uit die bloute my vrou gekontak en gesê die vertaler hou baie van my musiek en het ek nog lirieke. Hy het reeds ‘n belangstelling in Afrikaans gehad en moes seker op my video van ‘Tot Stilte’ op YouTube afgekom het. In elk geval, hy wys toe vir my die Russiese vertaling, en ek Google Translate dit toe net vir interessantheid. Dit is ‘n baie mooi vertaling: waar ek sing ‘my vriend, ek raai jou aan tot stilte’ sê hy in Russies, ‘my friend, consider, silence is not harmful’.

Mooi! Jy het in 2016 ‘n EP vrygestel, ‘Kreeftegang’. Ek hou nie baie daarvan om die vraag te vra nie, maar ek moet weet: Wat beteken die titel van die album? 

Kreeftegang verwys hier na die idiomatiese uitdrukking ‘iets gaan die kreeftgegang’, wat beteken dit gaan agteruit, raak algaande slegter.

Ek sien. En is daar ‘n tema wat deur hierdie album loop? En toe jy dit uitgevrygestel het, wat het jy gehoop sal mense daaruit kry? 

Ja, beslis, soos die titel sinspeel, gaan dit oor verval, oor dinge wat verby is, of wat verweer het. 

Vertel my oor wat jou inspirasie was met die liedjies op die album en of daar enige stories agter van die songs is? 

Ja, ek sou sê hulle het almal stories agter hulle, hoewel nie almal ewe waar is nie. En dis maar droewige stories! Die eerste song gaan oor ‘n ou wat van ‘n hospitaal se dak af spring, die ‘Kreeftegang Wals’ gaan oor ‘n vlietende ontmoeting tussen ‘n ou en ‘n meisie aan wie hy dan jare daarna nogsteeds dink, al ontken hy dit. Verslaggewer is geïnspireer deur die tipe trauma wat polisiemanne en verslaggewers op misdaadtonele moet sien. ‘Gert Vlok Nel’ is ‘n song om vir Gert aan te moedig om nog ‘n album uit te bring, dit het ek geskryf in die jare tussen sy eerste en tweede album. ‘Pipers Tavern’ is seker my heel sadste song ooit, which is saying something. In die tyd wat ek dit geskryf het het dit met ‘n paar van my vriende gebeur dat beide hul ouers kort na mekaar afsterwe, en ek het die ooms en tannies geken. Van my ander vriende en ek self het ook nou al ‘n ouer aan die dood afgestaan. Dis nie lekker nie. As mens se ouers nie meer daar is nie, of as die aftakeling so duidelik begin raak, dan is dit asof mens nooit weer met dieselfde sorgvryheid huis toe kan gaan nie. So ja, droewige inspirasies!

O ja, maar mooi! Saam met watter Afrikaanse sangers sal jy nog graag wil werk?

Ek was oor die jare geseënd om saam met baie van my helde op te tree of vir hulle te open, of so iets. Waarvoor ek wens, dink ek, is dat ek meer van ‘n permanent fixture in sulke line-ups kan wees – dat hulle sou dink, wat ons nou hier kort is ‘n bietjie Hanru Niemand!

Laastens, wat beplan jy vir die res van die jaar? 

Ek het my nuwe album ‘Opgrawings vir `n Lugkasteel’ onlangs vrygestel. Kry die link onder hierdie interview.

En ek sien uit na die lente as die lockdown hopelik verby is, om weer bietjie live te kan speel.

KRY ‘Opgrawings vir ‘n Lugkasteel’

The post ‘n Onderhoud met Hanru Niemand appeared first on Dirty Pink City.



This post first appeared on Dirty Pink City, please read the originial post: here

Share the post

‘n Onderhoud met Hanru Niemand

×

Subscribe to Dirty Pink City

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×