Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Sy ma wil hom glo dood hê

Sy Ma Wil Hom Glo Dood Hê

’n Landdros het ingegryp om die Krugersdorp-moordbeskuldigde Le Roux Steyn (21) te beskerm uit vrees
dat sy eie ma hom in die tronk wil laat doodmaak.
Kapt. Ben Booysen, die ondersoekbeampte in die web van moorde, geveinsde dood en verraad aan die WesRand, het Maandag die streekhof in Krugersdorp versoek om Le Roux dringend te beskerm.
Booysen het getuig dié jong man het sekere erkennings aan die polisie gemaak, waarna sy ma, Marinda
Steyn (50), hom onder in die selle geskouer het. “Jy het jou siel verkoop vir ’n pizza en ’n blikkie Coke,” het
die ma glo aan haar seun gespoeg.
Marinda, ’n onderwyser wat volgens die staat ’n sentrale figuur in die misdaadweb is en onder meer
ammunisie in haar klaskamer se stoor weggesteek het, was nie in die hof nie.
Dit was die voortsetting van Zak Valentine (31) se borgtogaansoek.
Booysen het gesê Le Roux kan nie langer in dieselfde tronk as Zak aangehou word nie omdat die polisie glo
sy lewe is in gevaar weens planne van Marinda en Zak.
Landdros Keith Paige het ingestem dat Zak verskuif word na die Johannesburg-gevangenis, ook bekend as
Sun City.
Dit was nie die enigste ongemaklike familiesaak wat in die hof uitgekom het nie.
Martin Valentine, Zak se pa, het getuig hy het in Desember 2015 R8 600 aan Martins-begrafnisondernemers
vir Zak se begrafnis betaal. Hy het vas geglo dit was sy seun se verkoolde lyk wat in ’n uitgebrande motor in
Petrus Steyn in die Vrystaat gevind is.
Zak word voorlopig aangekla van sameswering tot moord, bedrog en vervalsing om onder meer ’n
lewenspolis van R3,57 miljoen te eis.
Hy sê in sy borgtogaansoek die man in die motor het selfmoord gepleeg en hy wat Zak is, het geen idee
gehad mense het gedink hy is dood nie.
Martin sê hy het ’n “goeie” vader-seun-verhouding met Zak. Sy seun sal by hom gaan bly indien hy op
borgtog vrygelaat word.
Micky Tesner, die staatsaanklaer, het dié goeie verhouding bevraagteken deur vir Martin te vra waarom Zak
in die ses maande wat hy glo gemaak het of hy dood is nie sy pa gekontak het nie.
Martin het gesê sy seun het hom elke maand gekontak voordat hy “dood” was.
Die beskuldigdes in die web van Krugersdorp-moorde is Marinda, haar seun, Le Roux, dogter, Marcel (18),
Cecilia Steyn (geen verwantskap), Zak en John Barnard. Tussen hulle word hul aangekla van moord,
sameswering om te moor, bedrog, roof met verswarende omstandighede, die besit van onwettige ammunisie
en die besit van onwettige vuurwapens.
Dit het aan die lig gekom in die loop van die ondersoek ná die reeks sogenaamde “afspraakmoorde” waarin
twee versekeringsmakelaars en ’n eiendomsagent van Krugersdorp in Mei vermoor is.
Daarna is die groep verder verbind met ander beweerde hoëprofielmisdade soos die moord op die sakepaar
Peter en Joan Meyer in hul huis in Noordheuwel in November 2015.

Rapport – 23 Oktober 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Sy ma wil hom glo dood hê

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×