Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Wie het Peter en Joan vermoor?

Wie Het Peter En Joan Vermoor?

Deur – Chante Daries

Twee en ’n half maande nadat ’n egpaar om geen ooglopende rede nie in hul spoghuis doodgeslaan en –
gesteek is, is niemand nog aangekeer nie.
Inwoners van Noordheuwel in Krugersdorp is nog geskok oor die moord op Peter (51) en Joan (47)
Meyer.
Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, sê net ’n beursie en ’n selfoon word vermis.
“Hulle is verskeie kere met ’n onbekende skerp voorwerp gesteek. ’n Familielid het op hulle afgekom.”
Ernst sê die polisie het hulp nodig om twee mense op te spoor wat op 27 November by die Meyers se
huis was.
’n Buurvrou, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, het aan Rapport gesê die Meyers was nog altyd
’n baie private familie.
“Ons het nie veel van hulle geweet nie. Ons het nie enige nommers van hulle gehad nie en ons ken nie
eens die name van hul kinders nie. Hulle het nie met die ander bure gemeng nie,” sê die buurvrou.
Maar op daardie Vrydagmiddag het sy wel iets vreemds opgemerk.
“Ek onthou ek het ’n rooi kar gesien wat buite die huis gewag het. Die kar het sy flikkerlig aangehad om
te wys hy gaan indraai. Die kar het vyf keer op die toeter gedruk en toe gaan die hek oop. Ek het dit
vreemd gevind, want in al die jare wat ek hier bly, het ek nooit gesien daardie deure gaan so gou oop nie.
Gewoonlik laat die Meyers mense lank wag voordat hulle oopmaak. ’n Rukkie later toe hoor ons Peter
en Joan is doodgemaak in hul huis.”
Nicholas Meyer (22), die egpaar se jongste seun, het by navraag gesê hy, sy oudste broer, Thayne (27),
en hul suster, Nina Scott-Dawkins (30), wil nie oor hul familie se tragedie uitwei nie.
“Ons wil nie oor ons lewe praat nie. Dit is ’n private saak en ons wil dit so hou,” sê Nicholas.
Scott-Dawkins het aan Rapport gesê sy moet eers by die ondersoekbeampte hoor waaroor sy mag praat
en nie mag praat nie.
Die familie en inwoners van Noordheuwel is egter nie die enigstes wat verpletter is deur die moorde nie.
Die Meyers was besig met ’n reuse-ontwikkeling aan die KwaZulu-Natalse suidkus wat maande lank
groot hoop en opwinding vir die omliggende gemeenskap gebring het.
Die Amazon Valley Water Park word bemark as die grootste water-vakansiepark in Suid-Afrika.
Konstruksie moes in Januarie begin en teen November voltooi gewees het. Dié ontwikkeling van R120
miljoen by Kelso, suid van Scottburgh, sal pretritte, restaurante, ’n ontspanningsrivier en swembaddens
hê.
Thys Blom, woordvoerder van die projek, sê die moord op die Meyers sal nie die projek laat ontspoor
nie.
“Dit is tragies wat met Peter en Joan gebeur het, maar die park gaan voort. Ons het met die kinders
gepraat en hulle het gesê hulle moet hul pa se droom laat waar word.
“Projekvergaderings gaan binnekort gehou word, en ons beoog om binne die volgende agt maande of
voor die einde van die jaar met konstruksie te begin,” sê Blom.
Die Meyers was gesoute entrepreneurs wat onder meer ’n meubelfabriek, drukkersonderneming en
ander winkels in Gauteng bedryf het.

Rapport – 14 Februarie 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Wie het Peter en Joan vermoor?

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×