Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

2 makelaars, 2 afsprake voor hul vermoor is

2 Makelaars, 2 Afsprake Voor Hul Vermoor Is

Deur – Chante Daries

Twee moorde. Twee naakte lyke toegedraai in plastiek.
Twee lyke in twee kattebakke.
Twee versekeringsmakelaars. Twee afsprake met voornemende kliënte in die Key West-winkelsentrum in
Krugersdorp.
Die polisie in Krugersdorp jag die moordenaars van twee versekeringsmakelaars wat in twee afsonderlike
voorvalle erg aangerand en vermoor is.
Die motors van Anthony Scholefield (64) en Kevin Mc Alpine (29) is binne 3 km van mekaar af gevind
nadat die twee die laaste ruk afsprake met voornemende kliënte by Key West gehad het.
In die jongste voorval het Chris Mc Alpine (54) Donderdagaand die lyk van sy seun, Kevin (29), in die
kattebak van Kevin se motor gevind.
Kevin was ’n versekeringsmakelaar by InSHoor in Centurion.
Dit kom nadat die polisie 16 dae gelede die lyk van Anthony Scholefield (64), ’n versekeringsmakelaar
van Momentum Lewensversekering in Krugersdorp, in sy motor se kattebak gevind het.
Mc Alpine jr. het ’n silwerkleurige BMW-sportmotor gery en Scholefield ’n silwer Honda CR-V. Albei
motors het verlate in strate naby Krugersdorp se sentrale sakegebied gestaan.
“Die polisie verwag dit is nie die einde van die storie nie.
“Daar kan nog meer lyke opduik,” sê Mc Alpine sr. Hy is ’n lid van die Krugersdorpgemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Hy het die gru-ontdekking gedoen nadat sy seun se motor deur sy opsporingstelsel gevind is. “Ek kan nie beskryf wat ek gesien het nie. Ek hoop niemand hoef deur so iets te gaan nie. Om my eie seun se kaal lyk te sien het my gebreek,” sê hy.
Mc Alpine jr. se skokmoord was te veel vir sy vrou, Kezia (26), sê Mc Alpine sr.
“Sy het amper ’n miskraam gehad en ons moes dadelik met haar hospitaal toe jaag,” sê hy.
McAlpine jr. het glo vroeër die dag saam met ’n kollega
deur kwotasies en voorstelle vir ’n voornemende kliënt
by sy nuwe huis in Krugersdorp gewerk voordat hy na
die winkelsentrum vertrek het.
Mc Alpine sr. kon dit egter nie bevestig nie. “Al wat ek
weet, is dat Kevin ’n voornemende kliënt by Key West
gaan sien het wat Afrikaanssprekend is.”
Hy en sy vrou, Juanette, het onraad vermoed toe hul seun
nie teen 21:00 tuis was nie. Lede van die GPF het hom begin soek en sy motor is ’n halfuur later deur sy voertuigopsporingstelsel gevind.
Die Scholefield-gesin het sowat twee weke gelede ’n soortgelyke ervaring gehad.
Die GPF en die polisie is toe ook ontbied toe Scholefield se familie onraad vermoed het toe hy nog nie
teen 20:00 tuis was nie. Die polisie het sy voertuig op 10 Mei om 23:00 in ’n verlate straat gevind.
Dit was aan die verkeerde kant van die pad geparkeer en die motorsleutels was steeds in die aansitter.
Scholefield se lyk was ook agterin die kattebak van sy motor weggesteek.
Videomateriaal van kringtelevisiekameras in die polisie se besit toon dat Scholefield se motor om 20:50
in die pad stilgehou het en dat drie mans uit die motor geklim en weggestap het.
’n Familielid van Scholefield, wat anoniem wil bly, sê sy was stomgeslaan toe sy Vrydag hoor dat ’n
ander makelaar op dieselfde manier as hy vermoor is. “Ek het skoon begin bewe toe ek daarvan uitvind. Ek weet presies waardeur sy familie gaan.
“Ek moes ook Anthony se lyk agter in sy motor se kattebak uitken. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet
nie.”
Sy glo daar is moordenaars wat versekeringsmakelaars teiken. “Die moorde is identies. Albei van hulle
moes iemand op dieselfde plek ontmoet, hulle is op dieselfde manier vermoor en albei is in sakke agter
in motors se kattebakke gevind. Tot die motors se kleure is dieselfde.”
Die polisie is op die spoor van twee verdagtes wat met die moord op Mc Alpine verbind word, sê konst.
Lucky Matome, polisiewoordvoerder.
Hy kon nie bevestig of dié verdagtes ook met die moord op Scholefield verbind word nie.
“Ons ondersoek nog die moontlikheid dat daar ’n verband is tussen die moorde.”

Rapport – 29 Mei 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

2 makelaars, 2 afsprake voor hul vermoor is

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×