Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Bloedjonk: Vas ná reeksmoord

Deur Chante Daries

’n 19-jarige word in ’n polisiesel in Krugersdorp aangehou in verband met die reeksmoorde wat dié WesRandse dorp en die land geruk het.
Dit kom nadat die polisie Vrydag bekend gemaak het hulle het ook ’n 29-jarige man in hegtenis geneem.
Die 19-jarige man se ma het gister aan Rapport gesê sy verstaan nie waarom haar kind in die sel is nie.
Sy sê hy was by haar toe die drie moorde – op die makelaars Anthony Scholefield (op 10 Mei) en Kevin
Mc Alpine (26 Mei) en die eiendomsagent, Hanlé Lategan (30 Mei) – gepleeg is.
“Hy gaan nie eens uit nie. Hy bly altyd in die huis.”
Die vrou, wat in ’n vervalle huis in die armste deel van
die dorp woon, was gister baie angstig. Die polisie het die 19-jarige aanvanklik Donderdagaand vir ondervraging by sy huis gaan haal en later weer vrygelaat. Hulle het hom Vrydag weer gaan haal en sedertdien was hy nog nie weer by die huis nie. Rapport verneem sy ma is nog nie toegelaat om haar seun by sy sel te besoek nie.
Hy was verlede jaar nog in ’n skool vir leergestremdes aan die Wes-Rand.
Sedertdien het hy as ’n motorwag gewerk waar hy kon. Dit is onduidelik presies waaroor die polisie hom
ondervra. Op sy een Facebook-blad sê hy hy is in ’n “oop
verhouding” en op ’n ander sê hy hy is getroud, maar hy was nog nie vanjaar aktief op die blad nie.
Die polisie beskik oor kringtelevisie-beeldmateriaal waarop Lategan kort voor haar dood saam met ’n vrou by die Krugersdorp-hospitaal gestap het. Sy is nooit weer lewend gesien nie. Rapport verneem dat die polisie nog na dié vrou soek. Al drie die moorde het sterk ooreenkomste.
In al drie gevalle het die vermoordes verdwyn nadat hulle vroegaand afsprake met kliënte nagekom het.

Al drie die vermoordes se silwerkleurige voertuie is later verlate gevind. Die twee mans se lyke is in die kattebakke van hul voertuie gekry en Lategan se lyk naby ’n stroompie in Randfontein.Wat die dorp geskok het, is die feit dat die drie slagoffers so wreed vermoor is vir ’n baie beskeie buit.
Mc Alpine se skootrekenaar en selfoon is gesteel en die moordenaars het glo een onttrekking uit elk van
Lategan en Scholefield se bankrekeninge gemaak. Die motorsleutels was nog in die aansitters van Mc Alpine en Scholefield se motors.
“Daar is iets baie sinisters aan die moorde,” het die oudspeurder Piet Byleveld gister gesê.
Sy vermoede is dat die diefstalle net ’n rookskerm is om die polisie se aandag van die werklike motief af
te trek, want anders sou die rowers die motors ook gevat het. Lategan se dogter, Joané van Heerden, het Woensdag in trane aan Rapport vertel hoe hul familie nog Sondag rondom die braaivleisvuur oor dié vreemde moorde gesels het.
Hulle het saam bespiegel of dit die werk van ’n reeksmoordenaar kan wees. “Ons het nog vir my ma gesê sy moet versigtig wees, want sy moet ook baie kliënte nauurs sien. Sy het dit net afgemaak en gesê sy dink nie dis ’n reeksmoordenaar nie.”
Min het Hanlé geweet dat haar oproep die volgende dag sou kom.
Die “potensiële huiskopers” was kwansuis van Kaapstad en wou ’n saamrygeleentheid van Lategan hê.
Hulle moes by die Krugersdorp-hospitaal ontmoet omdat die egpaar se seuntjie glo daar opgeneem was.
Kringtelevisiemateriaal van die hospitaal wys hoe Lategan sowat tien minute voor die hospitaal by die
hoofingang wag. ’n Vrou het haar daar ontmoet en hulle het saam verdwyn.
Volgens Riana Burger, een van Lategan se kollegas by
ReMax Masters, het die “potensiële kopers” spoorloos verdwyn. “Niemand het ons gebel om te vra wat met Hanlé gebeur het nie, geen paartjie van die Kaap het ons al gekontak oor hul eiendomsagent wat nie opgedaag het nie. So, daardie paartjie was die laaste mense wat Hanlé gesien het.”Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n 29-jarige man is vir al drie die moorde aangekla en “verskeie” mense word weens die misdade ondervra. Sy wou nie bevestig of die 19-jarige vir ondervraging aangehou word.

Rapport – 5 Junie 2016



This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Bloedjonk: Vas ná reeksmoord

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×