Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Polisieman in trane toe hy vertel hoe lyk kind se lykie

Deur Chanté Daries

Die feit dat Cindy-Lee Jansen (29) op die stoep gesit en rook het terwyl haar seuntjie dood in die kamer lê, het ao. Audrey Motsepe laat dink die kindjie se dood was geen ongeluk nie.
Toe hy sien die vyfjarige ­Anthony Erasmus is op ’n warm dag in November geklee in langmouklere, het hy gewéét.
Hy het die dooie seuntjie se klere uitgetrek en wat hy daar gesien het, sal hy nooit vergeet nie.
“In my 28 jaar as ’n polisieman het ek nog nie so iets gesien nie. Sy liggaam was vol blou kolle en sigaretbrandmerke.”
’n Nat kol op die mat met bloed daarin het die legkaart vir hom voltooi. “Hulle het probeer om die bloed weg te was, maar hulle het nie alles uitgekry nie,” sê Motsepe.
Hy het in November 2012 op ’n noodoproep van Cindy-Lee se bure in die Casa d’Vliet-kompleks in Skeerpoort in Noordwes gereageer toe hy op Anthony se lyk afgekom het.
Jansen en haar kêrel, Marco Barnard, (33) is verlede Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria tot onderskeidelik ­15 jaar en 12 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op en mishandeling van ­Anthony.
Anthony, Cindy se kind uit ’n vorige verlowing met Werner Erasmus (29), is twee dae ná sy vyfde verjaardag dood weens bloeding op die brein.
Motsepe het begin huil toe hy in die twee se borgtogaansoek getuig het oor wat hy daardie dag gesien het.
“Ek kon sien dat die mishandeling ’n lang ruk aangegaan het,” sê hy.
In Marco se pleitooreenkoms het hy gesê hy het gesien hoe ­Cindy-Lee by verskeie geleent­hede Anthony se kop teen ’n muur slaan.
Die enigste verduideliking wat Cindy-Lee en Marco in hul borgtogaansoek vir die mishandeling gegee het, was dat ­die seuntjie kos gesteel het.
“Sy enigste sonde was dat hy honger was,” het landdros Moses Maswanganye gesê toe hy die paartjie se borgtogaansoek in 2013 geweier het.
Cindy-Lee het Anthony en sy negejarige boetie meer as drie jaar lank van hul grootouers en hul pa weggehou.
“Sy het ons net gekontak wanneer sy geld soek.
“As ons haar probeer opspoor, verdwyn sy net en verander haar nommer en werk,” sê Sonja Erasmus (48), die ouma van die seuntjies, by hul huis in Klerksdorp.
Volgens Sonja het hulle eers die waarheid op ­Anthony se begrafnis gehoor.
“Cindy-Lee het vir ons gesê die kind het aan ’n stukkie brood verstik.”
Cindy en Marco het ’n paar uur ná die begrafnis hand aan hand hulself aan die polisie oorgegee.
Cindy-Lee het verantwoordelikheid vir Anthony se dood ­aanvaar.
Sy sê sy het hom mishandel en sy kop soms teen die vloer geslaan.
Volgens Werner het hy jare lank baklei om die kinders in sy sorg te kry.
“Die welsyn wou ons nie help nie. Die kinders is meer as tien keer weggevat van Cindy-Lee, maar hulle is elke keer teruggegee. Die welsyn het gesê sy is stabiel as ’n ma, maar hoe kan ’n stabiele ma haar eie kind doodmaak? Die welsyn het vir Anthony in die steek gelaat.”
Volgens Werner was Anthony se boetie aan die begin baie getraumatiseer oor sy boetie se dood.
“Hy het vir ons gevra wanneer kan hy doodgaan, want hy wil by sy boetie wees, maar nou praat hy glad nie oor Cindy-Lee of die voorval nie.”
Die Erasmus-gesin beoog nou om Anthony se oorskot terug te bring na Klerksdorp om hom ­nader aan hulle te hê.
“Hy hoort hier by ons, nader aan sy boetie. Hy kan nie daar ver in Schoemansville lê nie.
“Hy moenie naby wees aan die plek waar hy vermoor is nie,” sê Sonja.

Rapport – 22 Mei 2016




This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Polisieman in trane toe hy vertel hoe lyk kind se lykie

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×