Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

10 jaar vir tiener wat ouma vermoor ná heavy metal

Deur Chanté Daries

Sy Seun was ’n doodnormale bleeksiel wat rekenaarspeletjies gespeel het. Toe steek hy sy ­ouma met twee messe dood.
Nou sien dié pa van Roodepoort steeds nie sy 18-jarige seun as ’n misdadiger nie, al is hy Maandag tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy ouma, Catherine Kock (76).
Die seun, wat op Facebook-foto’s na ’n normale, vriendelike en oopgesigkind lyk, het een dag in Desember 2014 in sy ouerhuis in Roodepoort by Kock se kamer ingegaan en haar herhaaldelik met die messe in die bors en maag gesteek. Hy sê in sy verklaring hy was op soek na dokumente en is oorval deur woede toe hy dit nie kry nie.
Die streekhof in Roodepoort het gehoor die seun, toe 16 jaar oud, het kort voor die moord na ’n heavy metal-liedjie geluister met die lirieke “Vermoor jou ma, vermoor jou pa”.
Nadat hy vir Kock vermoor het, het hy ook probeer om sy jonger suster aan te val. “Hy het probeer om by haar uit te kom, maar gelukkig was sy in die badkamer en die deur was toe. Ek glo sy en haar ouma was net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd,” sê die pa aan Rapport.
Die seun het ná die moord na sy vriend se huis gevlug om weg te kruip.
“Ek het hom daardie middag gaan soek. Ek was verskriklik bang en ek kon dit nie glo toe ek hoor wat hy gedoen het nie.”
Die seun sou later sê hy het met die okkulte geëksperimenteer en op die internet daaroor gelees om homself “sterker” te maak. Vir sy gesin was die afgelope 18 maande ’n nagmerrie.
“Ek het gedink ek is ’n slegte ouer. Ek het gewonder waar ek verkeerd gegaan het en gedink dat ek nie goed genoeg was nie. My vrou het dit nog erger gevat, want dit is haar ma wat vermoor is. Wat doen jy as jou kind jou ma doodmaak? Sy kan dit nog steeds nie verwerk nie,” sê die pa.
Die seun het verlede jaar terwyl hy in aanhouding was in die ­Krugersdorp-gevangenis probeer selfmoord pleeg deur sy polse te byt. Dit is toe dat sy pa vir hom ’n ultimatum stel.
“Terwyl hy daar in die hospitaal gelê het, het ek by sy bed gestaan en in sy oë gekyk. Ek het gevra of ek nog vir hom moet baklei of dit alles los. Dit was op daardie oomblik toe Pierre besluit het om aan te hou baklei.”
Volgens die pa kan sy seun homself nie vergewe vir Kock se dood nie. “Hy kan net nie daaroor kom nie. Op die vierde dag nadat hy gearresteer is, het hy in my vrou se arms geval en gehuil. Hy het net gesê hy is jammer en dat hy nie geweet het wat hy doen nie.”
Landdros Delize Smit het die seun tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Hy sal eers in ’n jeugsentrum aangehou word en op 21-jarige ouderdom vir psigiatriese evaluering gestuur word sodat sy vonnis heroorweeg kan word.
“Ons het gehoop rehabilitasie sal in sy vonnis ingesluit word en ons is bly ons het dit gekry. Hy het rehabilitasie nodig en dit is nou sy keuse as hy wil dit gebruik of nie. Hy weet hy het ’n fout gemaak en dat hy moet boet daarvoor. In daardie tydperk in sy lewe het hy nie sy lewe waardeer nie,” sê die pa.

Rapport – 24 Julie 2016




This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

10 jaar vir tiener wat ouma vermoor ná heavy metal

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×