Get Even More Visitors To Your Blog, Upgrade To A Business Listing >>

Parool ná hy hul kinders moor

Tags: haar kinders gaan

Deur Chanté Daries

Die laaste ding wat Jenny Venter van Haar kinders se moordenaar wou hê, is ’n vriendskapsversoek op Facebook.

Maar dis presies dít wat ou wonde vir Jenny (54) kom oopkrap het.

Haar destydse man, Matthys (Thys) de Wet (74), het in 1995 hul twee kinders, Alicia (11) en ­Tiaan (4), doodgeskiet. Hulle het by hom in die motor gelê en slaap toe hy die 9 mm-pistool uitgehaal het en Tiaan in die rug en Alicia in die bors geskiet het.

Thys de Wet was destyds die brandweerhoof van Carletonville, wes van Johannesburg.

Hy het aanvanklik voorgegee sy kinders is in ’n aanval deur twee mans vermoor, maar die hof het dit as leuens verwerp.

Hy is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde.

“Hy het die doodstraf met ses weke gemis,” sê Venter bitter waar sy met Rapport gesels.

Sy glo hy sou die doodstraf opgelê geword het as dit nie kort voor sy vonnisoplegging afgeskaf is nie.

“Eintlik wens ek hy het homself doodgeskiet toe hy my kinders doodgemaak het. Dit sou dit makliker gemaak het,” sê Venter.

Hoewel sy probeer aanbeweeg het deur weer te trou en ’n kind te hê, spook haar oorlede kinders nog by haar.

“Ek hoor nog hul stemme van tyd tot tyd.”

Sy verwyt haarself dat sy De Wet daardie Sondag van 13 Maart 1995 toegelaat het om die kinders op ’n uitstappie na die dieretuin te vat.

“Ek moes hulle nooit gestuur het nie. Alicia wou nie Gaan nie, maar ek het gesê sy moet gaan. As ek haar nie laat gaan het nie, sou sy nog hier gewees het,” sê Venter tussen haar trane deur.

Toe die kinders nie teen 17:00 by die huis was nie, het sy bekommerd geraak.

Sy het familie en vriende gebel om te hoor of hulle vir De Wet en die kinders gesien het. Maar niemand het nie.

Die polisie het haar die volgende dag ingelig van die moorde.

“Toe ek Alicia se gesig sien in die kis het sy ’n gesigsuitdrukking van angs gehad. My kind se mooie gesig was in angs toe sy doodgemaak is.”

Haar kinders se pa het tot naby die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal gery en daar geparkeer. Venter wonder tot vandag toe waarom hy daarheen gery het.

Dis maar net een van die vrae wat ná twee dekades nog onbeantwoord bly.

In 2011 het sy vir De Wet in die tronk gaan besoek om berusting te probeer vind.

Sy verduidelik dat sy dit haar Christelike plig geag het om hom te probeer vergewe.

Dis toe dat De Wet haar gevra het of sy sy aansoek om parool sal ondersteun.

“Ek het gedink ek gaan my kind verraai as ek die brief skryf. Toe ek in die polisiestasie gestaan het (om haar verklaring te ­beëdig), het dit gevoel asof Alicia oor my staan en vir my vra: ‘Mammie, hoekom doen jy dit?’ ”

Sy het net daar besluit sy gaan nie sy paroolaansoek ondersteun nie.

Sy het wel gehoop hy sal ná al die jare vir haar die antwoorde gee waarna sy so smag. “Ek het hom gevra hoekom het hy hulle doodgemaak. Hy wou nie vir my antwoorde gee nie. Hy het gesê ek het hom onkant betrap en dat hy vir my ’n brief sal stuur. Ek het nooit ’n brief ontvang nie. Ek het steeds geen antwoorde nie.”

Venter noem in die gesprek nie een keer De Wet se voornaam nie. Vir haar is hy net die onpersoonlike “De Wet” wat nooit die beloofde brief geskryf het nie.

De Wet het toe parool gekry – ná 18 jaar in die Zonderwater-gevangenis buite Cullinan en later die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria.

Venter het eers verlede jaar uitgevind hy is vrygelaat toe hy haar suster gebel het.

“Ek het gedink die paroolraad gaan my skakel om oor die voorleggings te praat, maar ek het nooit van hulle gehoor nie.”

Sy wil allermins hê hy moet weet waar sy en haar kind bly en wil hom nie sien nie. Sy weet net hy bly deesdae by sy broer in KwaZulu-Natal.

Dit is waarom dit haar so ontstel het toe sy uit die bloute ’n Facebook-versoek van hom kry.

“As hy my op Facebook kan kry, wat keer hom om nie my adres en goed te kry nie?”

  • De Wet het by navraag gesê hy wil nie kommentaar lewer nie.

“Daardie boek is gesluit. Ek gaan dit nie weer oopmaak nie. Dit gaan goed met my en ek het besluit om nie weer daaroor te praat nie.”

Rapport – 6 Maart 2016

Follow my blog with Bloglovin




This post first appeared on 3 Sides To A Story, please read the originial post: here

Share the post

Parool ná hy hul kinders moor

×

Subscribe to 3 Sides To A Story

Get updates delivered right to your inbox!

Thank you for your subscription

×